Karsiek

Die koningskinders het ‘n skrale wekie by ons gekuier. Nou is dit tyd om hulle terug te neem na hulle ouers terwyl ons oppad is Aardklop toe. Slim ouma wat ek is, bad ek hulle en trek hulle dagklere aan sodat hulle sommer reg is vir inklim as ons moet wegtrek. Ek gooi ook hulle matrasse voor die TV. Hulle mag TV kyk solank hulle wil. Ek moedig hulle aan om die geleentheid te benut (hopende dat hulle môre lekker vaak gaan wees en lang slapies insit om die pad korter te maak.)

Vanoggend staan ek en Pa toe vroeg op. Toe alles gepak is, maak ek hulle wakker vir ‘n piepie en toe is ons in die kar. Prinsie slaap rustig voort, maar Mia en Prinses is wakker. Elkeen kry ‘n worsie om die hongerplekkie toe te maak. ‘n Halfuur later tref ons die Abel Erasmuspas. Prinses is eerste om te kla: “Ek kry nie asem nie…!” Karsiek! Mia maak kort-kort die venster oop en hang uit vir vars lug. Karsiek. Prinsie slaap ongesteurd voort. Prinses huil: “Ek is naar… My magie pyn.” Prinses verander in Heksie. Wat nou? “Kom sit maar voor by Ouma.” Ek het al gehoor dit help om voor te sit. Agter my gaan die venster oop. Mia hang uit en kots al die worsies teen Pa se kar uit. Heksie ween al hoe harder. “Moenie aan my vat nie!” Ek los. Dit help nie. Venster oop. Mia kots. “Ek hou nie van die liedjies nie, ” huil Heksie. Pa sit sy geliefde RSG af. Heksie is nou erg omgekrap. “Jy haal asem. Ek hou nie daarvan nie!” “Fok, Tiné,” dink ek “dis bietjie baie gevra.” Venster oop. Mia kots.

“Kom ons laai hulle af,” stel Pa voor. Ek stel voor dat ons net bietjie stop. Heksie skree. “My magie, my magie…” Ek kyk in my handsak. Al pille wat ek het is Dr De Witt se pille vir blaasontsteking. Ek jaag Mia summier een in. Heksie weier. Ons staan langs die pad. Die karre stop een vir een om hulp aan te bied. Niemand het iets vir karsiek nie. Pa bekyk die worsies en gisteraand se beet teen sy kar se kant.

Ons klim in en ry verder. Mia sweer die pilletjie het gehelp. Heksie val in ‘n diep slaap. Op Belfast word Prinses wakker met ‘n bekoorlike glimlag. “Jesus is nou weer terug in my hartjie,” laat hoor sy. “Ja,” sê ek, “Ek het ook gesien Hy was vir ‘n rukkie weg.”Tine en Mia

3 thoughts on “Karsiek

Leave a comment