Rooi Koos en die Saamsing

VAN VRYF-EN-VAL TOT VRYVAL

“Alles het ‘n raklewe,” reken Rooi Koos. Selfs sy getroue sel-telefoon, die Nog-nie-Ja (ons mag mos nie adverteer nie…!) het begin tekens toon dat sy dae getel is. Dit was ‘n foon soos min. Knoppies wat jy druk, jy kan bel, sms’e stuur, foto’s neem en dis mos genoeg? Maar gedurende die laaste ses jaar het nuwe stelsels op die voorgrond getree. Wat die Nog-Nie-Ja nie oor beskik het nie.

‘n Nuwe Saamsing word aangeskaf. So ‘n swarte. Glad soos seep. G’n hoek nie. Nee, alles is rond. En glad. En… tot Rooi Koos se ontsteltenis… g’n inkelte knop nie. Daar moet gevryf word. Ook nie ‘n handboek by vir aanwysings of naslaandoeleindes nie. So ‘n simpel plaatjie (CD noem hulle hom). Om wat mee te doen weet nugter! Waar kry jy nou ‘n masjien waarin die plaatjie kan speel? Dus word die “Hoorsê” en “Wys weer”metode gevolg.

Dis vryf om aan te skakel. Geen tikbord wat alfabeties gerangskik is nie.’n Totale manier en temperament van sy eie!

Gedurende die naweek word geoefen. Rooi Koos vryf. Telkens spring ‘n rooi kol op die skerm uit. Dié moet na die kant toe gevryf word. Dan weer daardie kant toe vryf om nie name te kry. Vryf. Vryf. Vryf! “Nee man, speel met die ding’” gee sommige raad. So vryf Rooi Koos name weg, sit telefoonnommers by verkeerde name , sommige afdelings is sommer skoonveld! Maar vryf word daar gevryf!

Aan die voet van die opdraende is ‘n klein algemene handelaar. Daar is ‘n kêrel wat fone verstaan. Baie geduldig word alles weer in plek gevryf. Om maar net die volgende dag weer moer toe gevryf te word. Die vrywery is besig om Rooi Koos se woordeskat uit te brei tot duskant “Bok”, Bliksement se ding” en al sulke nuwe tipe tale wat slegs met ‘n fyn oor vertaal sal word as “skeppend”.

En so skeppend en vrywend gaan ‘n tweede week van totale frustrasie verby. Die instrument word nie gebruik vir resepte uitruil nie – is ‘n werksinstrument. Kliënte, material, arbeid, rande en sente – alles word met die Saamsing gedoen.

Ingang derde week word ‘n pap wiel se buiteband herstel.Om te toets dat die gaatjie herstel is, word die binneband in ‘n drom water gedruk. Rooi Koos doen self die toets. Binneband word beloer vir borreltjies. Nog ‘n effe vorentoe geleun en toe… “Man hy val en val. Hy val tot op die bodem van die drom.” Soos weerlig word die vervloekte Saamsing uitgeruk, maar vanweë sy gladheid en rondheid glip hy uit Rooi Koos se hand. “Maar toe val hy nou behoorlik homself die drom in.” ‘n Pure opregte, onverdunde vryval tot waar die skeppende woorde ophou en die verslaentheid vir ‘n paar sekondes die oorhand het.

Rooi Koos kom tot besinning. Nou moet daar gered word, want saam met die Saamsing onder die water in die drom, lê ‘n hele besigheid. Die Saamsing word uitgepluk. Agt bar lugdruk word ingeblaas, oorgeblaas, uitgeblaas. Enige tipe van vryf, maar geen lewe. Geen rooi kol wat uitspring nie. Die swart Saamsingertjie word vir vier dae onder rys begrawe, vir vier dae in die son gesit en vir vier ure in die oond gesit. Maar die lewenslig wil nie terugkeer nie. “Nege dae sonder Samesang was salig, maar erg nadelig,” vertel Rooi Koos. Dit kos Rooi Koos ‘n nuwe Saamsingding op die dorp loop koop. Hierdie keer ‘n witte. Effe groter, maar steeds kleiner as ‘n pakkie 30 Lexington. (Vir dié wat nie weet wat Lexington is nie – dit is ‘n wysheidstokkie vir grootmense, ‘n apparaat wat geleentheid skep om diep asem te haal en die tydjie te geniet.)

Dis amper 6 maande later. Die Saamsingding is aan Rooi Koos se sy. Hy fluit sy deuntjie met sonsopkoms, hy bel, hy neem foto’s, praat oor landsgrense heen met WatseAap en hou daarvan ons gevryf te word. “Eintlik ‘n wonderlike masjientjie,” brom Rooi Koos wat dit nie eintlik wil hardop sê nie.

Groete van Agter die Berg waar Rooi Koos jou dalk eendag raakbel met sy Saamsingertjie.

One thought on “Rooi Koos en die Saamsing

Leave a comment