DIE LEWENSGESKIEDENIS VAN ELMARIE – DEEL 7

Elmarie is gebroke om die Bende en Japie agter te laat.Witrivier is die volgende bestemming.  Sy val in ‘n diep, donker gat en neem haar toevlug tot brood en boeke.  Gevolglik word sy so rond soos ‘n boerpampoen. Om indruk te maak, gebruik sy haar intellek.  Sit vasgenael voor die boeke en leer hoofstukke van die handboek uit haar kop.  Toe begin die puisies ook kop uitsteek. Sy is nou amptelik die lelikste meisie in die klas. Die groep waarvan Lida, Anna, Rothea en Helen deel is, probeer haar simpatiek betrek. Almal pragtige meisies.  Lida het vir Willie, Anna en Keith het net oë vir mekaar en Helen en Attie is ernstig verlief. Die groep nooi haar selfs na garage-partytjies. Alhoewel sy hartstogtelik lief is vir dans, is sy gewoonlik die droëbek muurblommetjie. As die ligte dof word en die paartjies begin “close dans”, verdwyn sy en Rothea stil-stil.

Dit is ook die jaar waarin die Dopperkinders aangeneem word. Woensdagaande is katkisasie. Sy leer die hele Heidelbergse kategismus uit haar kop en kan feitlik al die Psalms in die boek opsê . Aan die einde van haar standerd nege jaar word daar met elke kind ‘n onderhoud gevoer. Elmarie leef in doodse angs vir die onderhoud en die vraag: Dans jy? Sou sy “Ja” antwoord, is haar kanse om die brood en wyn te geniet vir ewig verby. En om in die kerk getroud te raak. Of om kinders te doop.  Saans bid sy: “Here, moet ek die waarheid praat en geweeg en te lig bevind  word of moet ek lieg en lidmaat word? Here, ag sal U my tog voortydig die ou witleuentjie vergewe, want ek wil so graag in ‘n wit rok voor die kansel staan?” Die dag van afrekening breek uiteindelik aan. Die dominee en die ouderlinge – almal in swart geklee – sit skouer teen skouer agter ‘n lang tafel.  Sy hou haar oë afgewend sodat hulle nie die lieg in haar oë sien nie.  Die dominee skiet met vraag  een: “Glo en bely u dat u in sonde ontvang en gebore is en nog steeds tot alle boosheid geneig is? “  “O, Here,” dink sy. “Is dit nou die dansery wat so boos is?” Nog steeds met afgewende oë, antwoord sy saggies en onseker: “Ja.” Vraag twee:  “Onderwerp u u

aan die Christelike vermaning en tug as u in leer of lewe u misgaan?” “Hemeltjie tog. Wat sou die straf wees vir n paar draaie op die dansbaan? Gaan hulle ‘n bord om my nek hang waarop staan? SY DANS!” Nog sagter en meer onseker antwoord sy: “Ja.”  “Welkom in die Gereformeerde Kerk, Suster. U het as uitstaande student bewys dat u ‘n betrokke lidmaat sal wees?”  Haar mond val oop. “Maar julle het nie gevra van dans nie…?” Sy keer die woorde voordat dit haar mond verlaat. “Yes! Ek gaan in ‘n wit rok trou en my kinders in die kerk doop!” jubel sy na binne.

Die Groep besluit om daadwerklik stappe te neem om Elmarie van haar eensaamheid te verlos.  Fransie* is ‘n stil, gesproete bleeksiel wat aanhoudend keel skoonmaak. Hulle moedig hom aan om Elmarie die kys te vra. Elmarie maak beswaar teen ‘n liefdelose verhouding, maar hulle verseker haar dat dit net die eerste stap is om in sirkulasie te kom. Toe die briefie dus kom, is dit met gemengde gevoelens dat sy “Ja” antwoord. Haar eerste werklike kys is ‘n saketransaksie. Vir Fransie is dit ewe liefdeloos.

Pa laat Fransie toe om te kom kuier. Fransie aan die eenkant van die bank en Elmarie aan die anderkant. Met ‘n stoelkussing tussen hulle. Die lot De Klerkies is in en uit die sitkamer en maak dit vir die nuwe paartjie onmoontlik om nader aan mekaar te beweeg. Toe besluit Elmarie om die Hillman Hunter se agtersitplek te gebruik as vryplek. Fransie is ook nie links nie en gebruik sy kanse. Hy gryp Elmarie vas en soen haar driftig. Toe hy sy tong in haar mond druk, stoot die kots in haar keel op en sy spring vervaard uit die kar. Haar eerste soen is ‘n nare ondervinding. En so word die liefdelose verhouding ook summier beëindig. Tot verligting van Elmarie en Fransie.

Maar die ys is gebreek. Die slagveld lê oop.

*Skuilnaam.

Pa Kerkraad 001

Regs: Elmarie se pa op die kerkraad.

Leave a comment