Rooi Koos en die dokter

Rooi Koos van Agterberg is ‘n doodgewone kaalvoetseun. G’n niks opgetrek of aangeskryf nie.  Dié ontwikkel toe mos ‘n ongemaklikheid. So op ‘n ongemaklike plek. Lastig. Dit swel en swel. Sit raak ‘n probleem. Staan nog erger. Lê werk ook nie. Rooi Koos byt vas. Dokter toe gaan is buite die kwessie. Miskien…. Die vorige ongemaklikheid het na 2 weke se pyn en gespook vanself oopgebars en verligting gebring. Dié slag sal dit dieselfde wees, glo hy. Hy byt vas. Stel uit. Want, sien, vir ‘n naald is Rooi Koos so bang soos die rand vir die dollar. Bly so aan die skadukant van voorspoed.

 

Die pyn vererger daagliks. By die uur. By die minuut. Maar dokter toe… Nooit.

Toe, een nag, beneweld deur die pyn, droom hy.  Hy droom sy ou maat neem hom dokter toe. Saam-saam is hulle die spreekkamer binne. Bleek en natgesweet pleit hy vir ‘n verdowingsalfie voor Die Naald. Dok Skipper laat hom nie vertel hoe om sy werk te doen nie. Rooi Koos pleit vir ‘n pilletjie wat hom half bedwelmd sal laat voor Die Naald. Dok Skipper lig net sy wenkbroue. Rooi Koos se brein werk in hoogste versnelling… Wat gaan hy doen? Toe val ‘n briljante gedagte hom by. Hy haal sy beste uit om Dok Skipper te oortuig. As hy en sy maat net ‘n “ietsie onder die prop” kan gebruik om die spanning te verlig en die skerp kant van die naald effe sawwer te maak. En sowaar! Dok stem in.  So sit die twee maters hulself oorhoeks en  versuip, met toestemming van die dokter en onder die verbaasde oog van die ontvangsdame.  Luidrugtig en wankelend val hulle die spreekkamer in. Dokter kan maar doen wat hy moet. En toe word hy wakker. Met die ongemaklikheid ongemakliker.

 

Maar nou is dit nie ‘n droom nie. Die ongemaklikheid raak ‘n ondraaglikheid. Rooi Koos skraap al sy moed bymekaar en maak ‘n afspraak by Dok Skipper. Hy begin dadelik twyfel of dit die regte besluit was. Maar D-dag breek aan.  Staan-staan bekyk hy alles in die ontvangskamer. So asof die bekende vreeslik vreemd is. Hy durf nie sit nie. Dit voel of sy tande los raak. Die deur gaan oop. Daar staan Dok Skipper. Rooi Koos oorweeg dit om die hasepad te kies, maar van omdraai is daar nie sprake nie.

 

So lê  Rooi Koos toe met net ‘n hemp en kouse aan op die ondersoektafel. Skoene uit vir ingeval daar ‘n skopslag is.  Gesig muur toe met ‘n kussing vasgetrek oor die kop, ore en oë. En die O-ring dokter se kant toe. Rooi Koos wou nog vra vir ‘n ou sagmaaksalfie toe word ‘n blerts bruin, taai ghries so woerts-woerts opgesmeer. G’n mooi stadig, met deernis, nie. Nee, net so. Dê! In sy geestesoog sien Rooi Koos hoe karring Dok Skipper in ‘n laaitjie. Wat volg, weet Rooi Koos. Daai ding! Daai steekding. Daai ding waarvoor hy so vreeslik bang is. Die Naald! Dwardeur die kussing hoor hy hoe word die spuit vol gif getrek, hoe fluit die lug deur die rubberproppie.  Toe…. ‘n Mens sou sweer ‘n swerm perdebye word losgelaat, so steek die naald al om die ondraaglikheid. Uitasem gesteek en sopnat gesweet is daar ‘n ruskans. Toe vat Dok Skipper dieselfde masjienerie, dieselfde prosedure en vers 2 breek aan. Maar nou word ‘n swerm rooi perdebytjies losgelaat. Elke Steek Is Raak!

“Kalmeer!” sê Dok. Rooi Koos wou net ontspan toe Dok vervolg: “Nou moet jy bietjie vasbyt!”  Rooi Koos vreet omtrent die kussing op. Dok haal ‘n apparaat uit die laaitjie. Dis kompleet of jy ‘n skaapboud met ‘n liniaal oopsny. Twee plekke! Kan sweerlik twee pakke Lexington 30 in die gate versteek!

 

Maar nog is dit die einde niet. Vers 3. “Nou moet jy vasbyt,” kom dit van Dok Skipper Weer laaitjie toe. En hy haal ‘n stomp dropperpaal of iets soortgelyks uit waarmee hy in die Lexingtonslote werk tot Rooi Koos die dropperpaal se punt in sy keel voel.

 

Die pleisters en verbande laat hom ontspan. Die einde is in sig. Rooi Koos sit sy beste aangeplakte glimlag op om te wys hoe (on)dankbaar hy is en skuifel-skuifel bakkie toe.  Met ‘n laaste oogopslag spreekkamer toe, merk ek die streep op die sypaadjie. Soos ‘n motor wat ‘n erge motorlek onder lede het. Die handdoek waarop Rooi Koos gesit het, moes maar ‘n paar dae in sterk seepwater lê.

 

Weer Dokter toe? Not ‘n dêm.

 

Groete van Agter die berg.

One thought on “Rooi Koos en die dokter

Leave a comment