Koos met die sexy stem

Die wildtuin se kreet is soos die Visarend se roep: Kôhm, kom, kom, kom, kom, kom. Of die hiëna se gulde lag: Waarvoor wag, waarvoor wag? Dit stem ons tot nadenke. Pak op en pak in. Die natuur roep…. Ons groepie is uiteenlopend . Daar is Koos. Met die bokbaard met die sexy stem. Fluister so verleidelik as hy praat. En die groot suiper onder die klomp. Draf maklik vyf Coke’s na mekaar deur. Suiwer, gefiltreerde Coke. Na elke Coke raak hy meer ontspanne. Vertel van sy jeugdae toe Coke nooit suiwer gedrink is nie. Sy eerste kennismaking met Coke-en-iets het so verloop: In sy eerstejaar was hy nog ‘n onskuldige seun , baie bewus van die gevare van Coke-met-iets. So loop kuier hy en vriend Wessie een aand by dieselfde dameskoshuis. Maar ook hulle senior sleep daar vlerk. Na die meisies veilig afgelaai is vra Meneer: “Hoeveel geld het julle?” Koos krap is sy sak en delf ‘n R10-noot uit. Wessie het ‘n R5-noot. “Dis genoeg. Kom saam,” beveel Meneer. So sit hulle in Koos se Volla af na die naaste kroeg. “Dubbelbrandewyn met Coke vir die manne,” bulder Meneer aan die kroegman terwyl hy ‘n rum en Coke wegslaan. Koos dink nog hy sip-sip aan sy drankie toe staan die volgende rondte daar. En die volgende. En die volgende. Uiteindelik is die geld op. Wessie pass sommer uit op die voorste sitplek van die Volla. Koos knyp een oog toe en korrel met die ander na die koshuis. Uiteindelik verloor hy beheer en is die Volla oor die sypaadjie in ‘n roosbedding. Koos pass ook uit. Gedurende die nag dou dit sodat die hele voorruit oortrek is met doudruppels. Vroegoggend kom Koos by. Hy sien die doudruppels en die rose al om hom. Angsbevange maak hy vir Wessie wakker: “Jirretjie, Wessie, ons is in die hemel!” Wessie is ewe geskok oor hulle destination.

Koos. Met Hendrik se broek. Dié is sy jarelange tuinman. Effe groter as hy van bou. Maar Koos glo nie aan langbroek dra nie. As die omstandighede dit vereis, leen hy by Hendrik ‘n broek. O, en altyd die wit tekkies en wit kouse. So merk Johan droogweg op dat hier nie tennisbane op Shingwedzi isnie. Koos vererg hom en praat vir die res van die tyd nie weer met die Johan nie.

Dit sous en ons besluit om af te sit Crooks’ Corner toe. Van diere is daar geen sprake nie. Almal kruip weg in hulle gate teen die gietende reën. Pa sien hom eerste. Die mooiste jagluiperd. Onrustig stap hy heen en weer oor die pad. Ons verlustig ons aan die soepel dier se vloeiende bewegings.

By Crooks’ Corner sit ons voet oor die heining sodat ons kan sê ons was in Zimbabwe, Mosambiek en Suid Afrika in 5 minute se tyd. Maar toe ons wil opstart, weier die Toyota. “Dis die alternator,” sê ek. “Dis die battery,” sê die vier manne wat almal hande in die sakke na die binnekant van die Prado kyk. Battery pap. Pap. Morsdood pap! Gelukkig het ons jumper kabels en met twee stelle gekoppel kry ons hom aan die gang. Maar ons besef ons tyd is beperk. 94km Shingwedzi toe. Koos sit voet in die hoek. Teen die afdraendes maak ons 160km per uur. “Kwit, Kwis, sal jy kan stop as daar ‘n olifant in die pad is?” vra Anda doodbekommerd. Kwis laat hom nie van stryk bring nie. Ons skink maar ietsie by ons Coke vir die senuwees. Opdraendes verloor ons spoed sodat ons soms net-net to bo maak. Ons bid en drink…!

So op ‘n afdraend steek ons ‘n Parkeraad verby. Teen 160km per uur. Die Parkeraad flits ligte, toet en beduie, maar dis afdraend en ons loop onder hom uit. Ongelukkig lê die volgende bult voor en Parkeraad haal ons in. Kwis draai sy venster oop en beduie dat Parkeraad langs ons moet inkom. In sy sexy hees stem skree hy: “Ons kar is stukkend.” Parkeraad hoor niks en ons is nou weer teen ‘n afdraend. Parkeraad raak agter. Maar die volgende bult lê voor en Parkeraad haal ons weer in. Hierdie keer draai en my ruit af; “Ons kar is stukkend, “ skree ek. “Ry net stadiger,” skreeu hy terug. “Ons kan nie, dan vrek hy,” skree ek terug. Dis ‘n lang afdraend en ons skud Parkeraad af. Nog 10km. Ons skink die derde Coke-en-iets. Anda stress. Ons kry die Shingwedzi bordjie en moet spoed verminder. Die Prado raak moeg en ons kruie teen 10km per uur voordat hy uiteindelik reg voor reception vrek. Parkeraad stop langs ons. “Weet julle wat van julle sal oorbly as julle ‘n buffel teen daardie spoed tref,” bulder hy. Maar Kwis maak die bonnet oop en beduie. En Parkeraad is tevrede. En Kwis betaal R1400 vir ‘n nuwe battery. En ons skink ‘n ou ietsie om die herstel van die Prado te vier…………………………Naskrif: Die R1400 was toe verniet. Dit was die alternator.Wildtuin 20150904 056 Wildtuin 20150904 138 Wildtuin 20150904 165

5 thoughts on “Koos met die sexy stem

  1. Al wat ek kan se: BAIE bly ek was nie passasier in daardie Prado nie…..miskien sou bottle OBS my senuwees gekalmeer het……

    Like

Leave a comment