DIE LEWENSGESKIEDENIS VAN ELMARIE – DEEL 9

In haar matriekjaar hou die skool konsert. “Bye om ‘n Aster” is ‘n klug waar een meisie met vyf mans gelyktydig ‘n verhouding het. Aan die einde soen die held die meisie. Willie Fick is die held. Sy probeer haar bes vir die hoofrol, maar kry die rol van die Skinderbektante wat droëbek moet toekyk hoe Willie al blosend die hoofkarakter soen.

1970 is verkiesingsjaar. Albert Hertzog stig die HNP. Pa is ‘n fanatiese HNP-ondersteuner. Daar breek vele politieke bekgevegte uit in die De Klerk-huis. Pa is oortuig dat Albert en sy side-kick, Jaap Marais, gaan skoonskip maak in die verkiesing. Die eerste uitslae kom tienuur uit. Pa en Elmarie sit vasgenael voor die radio. Die een na die ander verloor die HNP kandidate hulle deposito’s. Uiteindelik wen die NP met 118 setels en die Sappe 47. Pa is bitter teleurgesteld. “Die land is nou in sy moer in,” sê hy voordat hy die radio driftig afskakel.

Die jaar staan einde toe. Dis matriekafskeid. Ma maak vir Elmarie ‘n blou chiffonrok met ‘n kant bostuk. Dis die mooiste rok wat sy nog in haar lewe gesien het. Net een probleem. Niemand het haar nog gevra vir die matriekafskeid nie. Elke aand kyk sy na die rok en bid dat iemand haar tog sal vra. Die dae gaan verby en steeds niks. ‘n Skrale twee dae voor die groot makietie vra Eugene haar. Sy is in die sewende hemel. Eugene is een van dié manne.

Die aand breek aan en soos Aspoestertjie opgetower vir die bal, staan sy gereed. Die meisies kloek en giggel. Anna het haar eie rok gemaak en lyk soos ‘n prinses met haar slanke lyfie. Die rykeres het gekoopte rokke, maar Elmarie is seker haar rok is die heel mooiste in die saal. Die fotograaf staan rond met sy kamera. Groepfoto’s van die meisies. Paartjies. Kinders en onderwysers. Kliek. Kliek. Kliek.  Dis ‘n aand wat vir altyd onthou moet word. Té gou slaan die horlosie twaalfuur en is die glorieryke aand verby. Die fotograaf glimlag en sit sy kamera -waarin hy nooit ‘n enkele film gesit het nie – terug in sy sak. Vir 1970 se matrieks sal hulle herinnerings maar in die geheue moet bly.

Maar nou is dit matriekeksamen. Haar skoolloopbaan sluit af op n hoogtepunt toe sy met die prysuitdeling beloon word vir al die jare se harde werk agter die boeke.

Volgende jaar gaan sy Onderwyskollege toe. Die wêreld wink.

familie 001
Die De Klerk gesin. Elmarie regs agter

Leave a comment