Elmarie verjaar

Vandag verjaar Elmarie. Elmarie de Meyer. Dit is nou ek. Mag ‘n mens jouself gelukwens met jou eie verjaardag? I mean, afterall weet jy die beste van almal hoeveel stront jy al opgevreet het in die afgelope 63 jaar?

Waar sal ek begin? Ek onthou die dag toe ek gebore is… Nee, ek lieg… Ek het dit heeltemal vergeet. My ma is 85 en kan dit ook nie meer onthou nie. Ook nie my man of kinders nie. En die ander wat dit behoort te onthou is almal al plankies toe. So, dis nou maar so. Ek sal nooit weet van die dag toe ek gebore is nie.

Maar ek onthou nog die riller van ‘n Standerd 5 meisie wat my so geboelie het toe ek in Graad 1 koshuis toe is. Sy is ook seker al daarmee heen. Hopelik land ek en sy nie in dieselfde plek op nie. Indien wel, gaan sy haar gat sien. Ek het lekker gewigtig geraak van Graad 1 af. O ja, en ek onthou nog daai box van ‘n onderwyser wat vir Brenda so voorgetrek het dat sy altyd eerste gestaan het in die klas en ek met tweede tevrede moes wees.

Pa, jy het nie gedink jy gaan loskom nie, het jy? Ek onthou nog hoe jy my betower het en ‘n baby gegee het nog voor ons getroud was. Unwanted nommer een…. En toe agtien jaar later wragtag nog een toe ek al stokoud was. Unwanted nommer twee… En tussen in nog twee wanteds ook!

Hmm, kinders. Ek weet julle kou nou naels. Kou maar…. Zet ek onthou nog hoe jy die eerste twee jaar van jou lewe nie langer as ‘n uur op ‘n slag geslaap het nie. Wie dink jy het elke uur opgestaan ? Kou, Suster, kou! Tan, jy lag verniet so lekker. Jy is volgende…Mos altyd ‘n borsie gehad. Ja, amper gedooi toe jy een nag kroep kry dat jy potblou raak. Wie dink jy het toe gebid dat die sweet aftap? Aneen… jy…. Jy het sekerlik nie gedink jy is onskuldig nie? Skaars uit die matriek toe slaan jy skelmpies ‘n dampie agter die garage. Dryf my amper in ‘n inrigting in. En die kersie op die koek..Ja, jy, Ouboet! Leer mos asof jy vir ewig tyd het om ‘n ou regsgraadjie klaar te kry. Skoonseuns, moet asb nie julle hande in onskuld was nie. Julle is SKULDIG! Dirk, Jacques. Albei in die finansies en sien toe hoe ek krepeer van armoede. Wou nog so graag Disneyland toe gegaan het. En Frankryk, Italie en Spanje toe. O ja, ook Israel. Maar julle maak of julle nie geld het om vir my toere te betaal nie. Ek weet nie hoekom ek so moet suffer nie.

Vrinne, ek weet julle skuif nou almal ongemaklik rond. Dis julle skuld dat ek so dik is. Dwing my mos om elke Donderdag by die Spur al julle chips te eet. En met die samekomste mag my glas mos nie leeg raak nie. Dis van al die gevreet en gesuip wat ek lyk soos ek lyk…! Julle skuld…!

Maar, baie geluk, Elmarie. Jy het dit alles oorleef. En after all is daar good times ook. Jy is immers afgetree. Wie kan nou vir meer vra? Met ‘n man wat steeds aan jou sy staan, kinders waarop jy baie trots is en kleinkinders wat niks verkeerd kan doen nie. O ja, en twee stunning skoonseuns en lojale vriende. What a blessed life!Beste een.

Leave a comment