DIE LEWENSGESKIEDENIS VAN ELMARIE – DEEL 5

In haar standerd vier-jaar verhuis Pa, Ma en die vyf kinders na Kimberley. Hier bly hulle in ‘n eenvoudige huisie regoor die kinderhuis. Ma maak elke dag fudge wat Elmarie en haar kinderhuisvrinne verorber. Die nuwe Meneer hou baie van haar. Sy sit voor in die klas by sy lessenaar. Meneer Jacobs vertel al te graag vir die hele klas hoe slim Elmarie is as sy ‘n vragie reg beantwoord. Hierdie aandag is net wat sy nodig het om haar heel beste vir haar Meneer te gee.  Aan die einde van die eerste kwartaal staan sy eerste in die klas en Meneer Jacobs skryf ‘n lang brief aan haar ouers om hulle te vertel hoe begaafde kind hulle het. Vir haar twaalfde verjaardag kry sy ‘n kwartaal se musieklesse as verjaardaggeskenk. Omdat hulle nie ‘n klavier het nie, tokkel sy middag vir middag op die buurvrou se klavier.

Maar aan die einde van die jaar loop hierdie wonderlike jaar ook ten einde toe hulle trek. Sy is nou in standerd vyf in ‘n nuwe skool en vasbeslote om nooit, ooit weer tweede beste te wees nie.  Aanvanklik word sy word ingedeel in die B-klas. Die dom klas. Maar sommer gou word sy oorgeplaas na die A-klas. Magriet Swanepoel is nie net beeldskoon nie – sy is ook slim. En Mnr Steyn se onbeskaamde witbroodjie. Elmarie gee haar allerbeste en klop Magriet in elke toets. Maar as dit by Voordrag en  Lees kom, kry sy ‘n skrale punt terwyl Magriet net-net nie volpunte kry nie. En só klop Magriet en die Meneer haar in ‘n spanpoging.

Dis ook die jaar waarin sy die eerste keer die geleentheid kry om in ‘n konsert te kan optree. Die operette, Prinses Roselyn, kry groot belangstelling. Elmarie bid elke aand hartstogtelik vir die rol van Roselyn, maar Magriet raap dit voor haar neus weg. Sy kry die rol van die koningin, wat sy met oorgawe vertolk. Die koningin het ‘n pragtige donkerblou rok wat tot op die grond hang. Van satyn gemaak. Elmarie troos haar daaraan dat, alhoewel sy nie hoofrol vertolk nie, sy tog die mooiste rok aan het.

Die De Klerks is toegewyde Doppers. Elke Sondag is hulle twee keer in die kerk en sing net Psalms. Die kinders word ernstig vermaan teen die Apostolies wat reg langsaan kerk toe gaan. “Hulle het geen respek nie,” sê die Doppers. “Klap selfs hande in die kerk. Dis erger as ‘n konsert!”  terwyl  “O goedheid  Gods hier nooit vol prese” met groot erns en sedigheid gesing word. Na kerk volg die katkisasie. Die kinders moet lang dele uit die Bybel en Psalmboek opsê. Terwyl die dominee teatraal die gemeente tot bekering preek, sê Elmarie haar versies  op. Om seker te maak sy ken dit. Pa hou sy kroos met ‘n arendsoog dop. Sou iemand dit waag om ‘n uiltjie te knip, word sy beloon met ‘n liederlike knyp.

In haar klas is ook ‘n baie bekende swemmer. Karen Muir.220px-Karen_Muir_1967

Leave a comment