DIE LEWENSGESKIEDENIS VAN ELMARIE – DEEL 6 Aan die einde van haar standerd 5 jaar verhuis Pa en sy verantwoordelikheid na Swellendam. In die hoofstraat, baie sentraal, staan ‘n ou Kaapse huisie leeg. Dié is beskikbaar teen ‘n baie billike prys. Maar, die huis staan nie verniet leeg nie. Dit spook. Saans, as die laaste lig afgeskakel word, kraak die voetstappe op die plankvloere. Wit skynsels beweeg heen en weer verby die kamerdeur in die gang. Sus Anet, met die helm gebore, is vreesbevange bewus van die middernagtelike gaste. Soms kraak die deure en gaan onheilspellend oop en toe. Elmarie trek haar kop toe met die komberse terwyl haar hart wild bons. Soggens is die hele familie uitgeput. Toe die spook saans die ketel begin aansit, kondig Pa aan: “Ons trek!” Elmarie moet koshuis toe. Hierdie keer is dit een groot avontuur! Die Bende van Ses kry sy ontstaan hier. Elmarie word tot Kaptein verkies. Die Bende besorg die onderwysers en ander koshuiskinders grys hare met hulle streke. Hulle, saam met ‘n sewende nie-lid, is die skool se 0/15 netbalspan. In elke kompetisie kry die opponente lelike ‘n afranseling. Na afloop van ‘n wedstryd kom die Bende bymekaar in hulle geheime plek – die kolekamer- en besing mekaar se lof. Dan word daar uit die koshuis geslip en die oorwinning word gevier met ‘n onwettige “pie and gravy” en melkskommel – op Judi se pa se Tomlinsonsrekening. Een goeie dag, nadat die vieringe vir ongeveer ses maande aan die gang was, kry Judi se pa snuf in die neus oor sy hoë rekening. Die Bende word betrap en as straf moet hulle die hele naweek voorraadopname doen in die sybokhaarwinkel. Dit genees die Bende vir ewig van “pie and gravy”, maar ook van sybokhaar. Mnr De Wet gee Wiskunde. Hy is ook die dirigent en afrigter van die Swellendamse Simfonie-orkes. Die drie maande wat Elmarie musiekklasse gehad het, kom nou handig te pas. Sy gaan die blokfluit bespeel in die simfonie-orkes. Naweke, tuis, oefen sy uit die enigste musiekboek tot haar beskikking, die Psalmboek. Die skrille, vals gefluit dryf die familie tot raserny totdat Pa skreeu: “Bêre daai fokken fluit .” Mnr De Wet stel ook baie belang in sterrekunde en by orkeskampe haal hy sy teleskoop uit. Elmarie vaar beter in Wiskunde as Sterrekunde. By die kamp kan sy al mooi Alpha Centauri A, Alpha Centauri B en Proxima Centauri, die drie susters en die melkweg raaksien. Sodra sy tuis kom en die familie wil beïndruk, lê die sterrehemel weer anders. Dan wys sy sommer enige plek en noem hoogdrawend die name waarvan sy op die orkeskamp geleer het. Ma sê: “ Die kind sal eendag moet universiteit toe gaan. Sy is slim.” In standerd agt raak sy verlief. Op Japie van Wyngaardt. Japie is twee jaar ouer as sy en in matriek. Hy is ‘n prefek en het die mooiste swart hare. Elmarie kan haar oë nie van die mooie seun afhou nie. Saans na ete kom al die vryers bymekaar in die tennishuisie. Elmarie gaan maak gereeld ‘n draai om te sien of Japie nie dalk ook daar is nie. Een aand tref sy hom aan in die arms van die wulpse tert met die bloedrooi hare, Rentia. Daardie aand huil sy hartstogtelik in haar kussing. Haar hart is gebreek. By die Laerskool oorkant die koshuis het ‘n nuwe onderwyser begin skoolhou. Mnr Westraadt. Die Bende is almal tot oor hulle ore verlief op hom. Elke tweede naweek ry Elmarie saam met hom huis toe vanaf die koshuis. Sondagaande moet sy breedvoerig verslag doen van elke woord wat hy gesê het. Die lewe is lekker. Elmarie is gelukkig. Toe kondig Pa aan: “Ons trek.”

Aan die einde van haar standerd 5 jaar verhuis Pa en sy verantwoordelikheid na Swellendam.  In die hoofstraat, baie sentraal, staan ‘n ou Kaapse huisie leeg. Dié is beskikbaar teen ‘n baie billike prys. Maar, die huis staan nie verniet leeg nie. Dit spook.  Saans, as die laaste lig afgeskakel word, kraak die voetstappe op die plankvloere. Wit skynsels beweeg heen en weer verby die kamerdeur in die gang. Sus Anet, met die helm gebore, is vreesbevange bewus van die middernagtelike gaste. Soms kraak die deure en gaan onheilspellend oop en toe. Elmarie trek haar kop toe met die komberse terwyl haar hart wild bons. Soggens is die hele familie uitgeput. Toe die spook saans die ketel begin aansit, kondig Pa aan: “Ons trek!”

Elmarie moet koshuis toe. Hierdie keer is dit een groot avontuur! Die Bende van Ses kry sy ontstaan hier. Elmarie word tot Kaptein verkies. Die Bende besorg die onderwysers en ander koshuiskinders grys hare met hulle streke. Hulle, saam met ‘n sewende nie-lid, is die skool se 0/15 netbalspan. In elke kompetisie kry die opponente lelike ‘n afranseling. Na afloop van ‘n wedstryd kom die Bende bymekaar in hulle geheime plek – die kolekamer- en besing mekaar se lof. Dan word daar uit die koshuis geslip en die oorwinning word gevier met ‘n onwettige “pie and gravy” en melkskommel – op Judi se pa se Tomlinsonsrekening. Een goeie dag, nadat die vieringe vir ongeveer ses maande aan die gang was, kry Judi se pa snuf in die neus oor sy hoë rekening. Die Bende word betrap en as straf moet hulle die hele naweek voorraadopname doen in die sybokhaarwinkel. Dit genees die Bende vir ewig van “pie and gravy”, maar ook van sybokhaar.

Mnr De Wet gee Wiskunde. Hy is ook die dirigent en afrigter van die Swellendamse Simfonie-orkes. Die drie maande wat Elmarie musiekklasse gehad het, kom nou handig te pas. Sy gaan die blokfluit bespeel in die simfonie-orkes. Naweke, tuis, oefen sy uit die enigste musiekboek tot haar beskikking, die Psalmboek.  Die skrille, vals gefluit dryf die familie tot raserny totdat Pa skreeu: “Bêre daai fokken fluit .” Mnr De Wet stel ook baie belang in sterrekunde en by orkeskampe haal hy sy teleskoop uit. Elmarie vaar beter in Wiskunde as Sterrekunde. By die kamp kan sy al mooi Alpha Centauri A, Alpha Centauri B en Proxima Centauri, die drie susters en die melkweg raaksien. Sodra sy tuis kom en die familie wil beïndruk, lê die sterrehemel weer anders.  Dan wys sy sommer enige plek en noem hoogdrawend die name waarvan sy op die orkeskamp geleer het. Ma sê: “ Die kind sal eendag moet universiteit toe gaan. Sy is slim.”

In standerd agt raak sy verlief. Op Japie van Wyngaardt. Japie is twee jaar ouer as sy en in matriek.  Hy is ‘n prefek en het die mooiste swart hare.  Elmarie kan haar oë nie van die mooie seun afhou nie. Saans na ete kom al die vryers bymekaar in die tennishuisie. Elmarie gaan maak gereeld ‘n draai om te sien of Japie nie dalk ook daar is nie. Een aand tref sy hom aan in die arms van die wulpse tert met die bloedrooi hare, Rentia. Daardie aand huil sy hartstogtelik in haar kussing. Haar hart is gebreek.

By die Laerskool oorkant die koshuis het ‘n nuwe onderwyser begin skoolhou. Mnr Westraadt.  Die Bende is almal tot oor hulle ore verlief op hom. Elke tweede naweek ry Elmarie saam met hom huis toe vanaf die koshuis. Sondagaande moet sy breedvoerig verslag doen van elke woord wat hy gesê het.

Die lewe is lekker. Elmarie is gelukkig. Toe kondig Pa aan: “Ons trek.”

Leave a comment