DIE LEWENSGESKIEDENIS VAN ELMARIE – DEEL 8

20 Julie 1969. Die De Klerk-gesin sit vasgenael voor die FM’pie.  Die klank kom en gaan sodat hulle net hier en daar kan hoor. Toe kom dit duidelik: “Apollo 11 het op die maan geland en die eerste mens, Neil Armstrong gee sy eerste tree op die oppervlak van ‘n ander hemelliggaam.”  “Stront,” sê Pa. “Dis net die Kommuniste wat ‘n komplot smee teen ons.”

Hierdie wêreldgebeurtenis vind sy neerslag in 1969 se matriekafskeid. Die standerd nege’s moet die saal voorberei vir die matrieks. Die tema: “Die Ruimte.” By die ingang van die saal word ‘n reuse ruimtetuig gemonteer waardeur die matrieks moet stap voordat hulle die saal binnegaan. Die saal se mure word met papier toegeplak en geel geverf om die maan voor te stel. Kraters en al. In die middel van die saal is ‘n maypole met stroke wit en blou crinkle paper staan gemaak. Oral word groot balle, met klein stukkies spieël geplak, gehang . Dié voorbereidings gaan natuurlik gepaard met ‘n groot gevryery agter die gordyne.

Die groot aand breek aan. Die matrieks arriveer in hulle spoggerige uitrustings. Onder die aankomelinge is Renier de Meyer en Marina. Elmarie kan die vent nie voor haar oë verdra nie. ‘n Regte windgat. Die standerd 9 seuns moet beurte maak om in die saal se plafon in te klim om die spieëlballe te spin. Dié kan natuurlik nie sonder die verbode versterkinkies gedoen word nie.  Midde die verrigtinge is dit Cassie se beurt om te klim en die bal te spin. Goed geolie verloor hy sy balans en val deur die dak langs die ponstafel…

 

Fanie het intussen besluit hy wil die jagveld betree. Net een probleem. Pa hou nie van Fanie nie. Maar Fanie is mooier as ‘n mens en boonop ‘n eerstespan-rugbyspeler. Die woonstel waar die De Klerks bly, het ‘n lang stel trappe wat na die voordeur lei. Saans, as Pa bed toe is, ontmoet Elmarie en Fanie mekaar skelmpies op die trap. Dis op hierdie trappe waar Fanie vir Elmarie trap-vir-trap in die soenkuns inlei. Maar die trapvry raak ‘n ongemaklikheid en die verbode vrugte raak frank.

Tina

Haar matriekjaar begin op ‘n hoogtepunt. Pa koop vir hulle ‘n nuwe orrel, ‘n Lynch afdruk genaamd Tina en ‘n geelkoperstaanlamp. Die orrel kry plek in die sitkamer met die lamp langsaan en die afdruk bokant die orrel. Tina is maar skamel geklee. As die dominee kom kuier, skree Pa net: “Tina!” Die een naaste aan Tina moet haar van die muur verwyder en gesig na die muur in die kamer gaan wegsteek.

Elmarie en Sus Anet kry hulle sit voor die orrel en leer so op gehoor musiek maak. Witrivier het ‘n netjiese hotel met ‘n grênd sitkamer. Saterdae speel Elmarie en Anet vir die gaste op die orrel en verdien so elk ‘n bord hotelkos.

Een Saterdagaand stap ‘n mooie man die hotel binne. Die plaaslike staatsaanklaer-in-wording. Elmarie flankeer subtiel en die jongman word vasgevang in die web. Die kys dra Pa se goedkeuring weg en so word Thys Elmarie se eerste werklike kêrel. Toe die kys sewe maande later beëindig word, is dit Johan, Petrus, August, Roelf en nog ‘n paar ander se beurt. Sy maai behoorlik onder die manne. En toe…Konsert!

Leave a comment